BKS: Kalfseisoen in die VS word bedreig
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 8 hours ago
- 1 min read
Vertragings met die uitrol van entstof teen bek-en-klouseer hou 'n erngstige bedreiging vir die Vrystaat se kalfseisoen in, terwyl boere reeds groot verliese weens vrektes en verswakte kuddes ly.
Maroela Media berig volgens die VF Plus-leier in die Vrystaat, Jan van Niekerk, plaas die ernstige tekort aan entstof boere onder geweldige druk terwyl die kalfseisoen vinnig nader kom. Hy sê die situasie is op ’n kritieke punt omdat boere reeds finansiële en emosionele skade ervaar.
Van Niekerk het verwys na ’n boer in die Oos-Vrystaat wat meer as die helfte van sy kalwers binne die eerste twee weke ná geboorte verloor het. Volgens hom is groot hoeveelhede entstof dringend nodig om Suid-Afrika se totale beeskudde binne sowat agt weke ingeënt te kry, soos kundiges aanbeveel.
Die VF Plus sê ’n gedesentraliseerde benadering tot die uitrol van die entstof is nou noodsaaklik en dat politieke wil nodig is om dit daadwerklik uit te voer. Die party voer aan dat administratiewe prosesse en gesentraliseerde beheer deur die regering die inentingsproses vertraag.
Van Niekerk sê reeds ingeënte beeste word weer besmet terwyl die departement van landbou se uitrol stadig vorder, en dit laat ernstige vrae ontstaan oor die bestuur van die krisis.
Die VF Plus doen ’n beroep op die staat om groter samewerking met private veeartse en landbou-organisasies toe te laat om entstof vinniger op grondvlak beskikbaar te stel.








Comments