Bloem-polisie ondersoek vroue wat glo vir geld met buitelanders trou
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- 16 minutes ago
- 1 min read
Polisie in Bloemfontein ondersoek bewerings dat sommige Suid-Afrikaanse vroue glo met ongedokumenteerde buitelanders trou in ruil vir geld.
Volgens inligting wat deur die Vrystaatse Provinsiale Regering gedeel is, het dié bewerings na vore gekom tydens die jongste Operasie Shanela in die Bloemfonteinse middestad.
Verskeie ongedokumenteerde buitelanders is tydens dié operasie in hegtenis geneem.
Dit terwyl winkeleienaars ook vasgetrek is omdat hulle sonder die nodige handelspermitte sake gedoen het. Die regering sê baie van die verdagtes het beweer hulle is met Suid-Afrikaanse vroue getroud, maar kon nie hul eggenotes opspoor of besonderhede oor hulle verskaf nie.
Premier MaQueen Letsoha-Mathae sê wetstoepassers gaan nie net optree teen mense wat onwettig in die land is nie, maar ook teen Suid-Afrikaners wat dié misdade moontlik maak.
Sy waarsku mense wat glo hul Suid-Afrikaanse burgerskap vir geld of omkoopgeld verkoop het dat wetstoepassers ook nou agter hulle aan is.








Comments