Bloem se Botaniese Tuin spog met internasionale erkenning

Die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin in Bloemfontein is internasionaal erken vir die handhawing van hoë professionele standaarde.
Die tuin het ’n Vlak Twee-akkreditasie ontvang vir praktyke wat as belangrik beskou word vir botaniese tuine en arboreta wêreldwyd.
Volgens inligting wat op die tuin se Facebook-blad gedeel is, is die erkenning toegeken deur die ArbNet Arboretum-akkreditasieprogram.
Die program is die enigste wêreldwye inisiatief wat arboreta op verskillende vlakke van ontwikkeling, kapasiteit en professionaliteit erken.
Die tuin is ook nou opgeneem in die Morton-register van arboreta – ’n internasionale databasis van tuine wat toegewy is aan houtagtige plante.
Volgens Sanbi beslaan die tuin 70 hektaar en huisves sowat 400 spesies plante, hoofsaaklik uit die Vrystaat, Noord-Kaap en Lesotho. Dit sluit ook 'n versameling dekoratiewe en geharde bome in wat inheems aan die gebied is.









Comments