Bloemfontein se goue-lint-bome dra ‘n besonderse boodskap

Updated: Oct 8
Die goue linte wat in September aan bome in Bloemfontein verskyn, dra volgens Sonet Van Zyl ’n besondere boodskap oor kinders met kanker.
Van Zyl, streekbestuurder vir die Vrystaat en Kalahari by CHOC Childhood Cancer Foundation SA, is al 11 jaar betrokke by die ondersteuning van kinders met kanker en hul gesinne.
Sy vertel goud is die kleur wat wêreldwyd met bewusmaking oor kinderkanker verbind word.
Die gebruik van die goue bome in Bloemfontein het begin nadat ’n dogtertjie met breinkanker gediagnoseer is. Haar ouers wou mense bewus maak van kinderkanker en seker maak dat kinders en hul gesinne nie vergeet word nie.
Dié dogtertjie is vandag in remissie.
Die goue linte herinner aan kinders wat tans teen kanker veg, dié wat die stryd gewen het, asook die kinders wat nie meer daar is nie.
Dit is ook ’n herinnering aan die gesinne, gesondheidswerkers, versorgers, vrywilligers en organisasies wat kinders en hul families deur die moeilike reis ondersteun.
Van Zyl sê aan Rosestad-nuus die goue linte sal nog ’n rukkie vanjaar aan die bome te sien wees. Hulle sal ook weer volgende September gehang word om bewustheid oor kinderkanker te bevorder.
Agter elke goue lint is daar ’n storie – ’n storie van ’n kind, ’n gesin, moed en hoop.









Comments