Chikunga eis die verwydering van 'n omstrede alkoholadvertensie
- Saamgestel deur Armando Pieters

- 16 minutes ago
- 1 min read
Die minister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, het ’n beroep gedoen dat ’n alkoholadvertensie wat volgens haar die geskiedenis van Suid-Afrikaanse vroue trivialiseer, verwyder word.
Chikunga sê die 1956-Vroue-optog het gegaan oor vryheid, waardigheid, gelykheid en geregtigheid, en nie oor kommersiële wins nie.
Haar kritiek kom in ’n jaar waarin Suid-Afrika die 70ste herdenking van die historiese optog herdenk. Sowat 20-duisend vroue het in 1956 na die Uniegeboue gemarsjeer om teen paswette en apartheidsonderdrukking te protesteer.
Chikunga waarsku verder dat die bevordering van alkohol bestaande sosiale probleme kan vererger, insluitend geslagsgebaseerde geweld, gesinsonstabiliteit en kinderverwaarlosing.
Die departement se kommunikasiehoof, Cassius Selala, sê die minister doen ’n beroep op besighede om die nalatenskap van die vroue van 1956 te respekteer en ’n rol te speel om Suid-Afrika se geskiedenis te bewaar.
Chikunga het vroeër ook gewaarsku oor die impak van alkohol- en dwelmmisbruik op jongmense en gesinne.








Comments