Coca-Cola trek ’n werwingsadvertensie terug
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Apr 30
- 1 min read
Coca-Cola het ’n werwingsadvertensie teruggetrek nadat Solidariteit met regstappe teen die maatskappy begin het. Dit kom nadat Coca-Cola vandeesmaand in ’n posadvertensie vir ’n internskap in die logistieke afdeling vir werklose jong mense vereis het dat die kandidaat uit ’n “aangewese groep” moet kom.
Netwerk24 berig Solidariteit voer in ’n verklaring aan daar is geen morele regverdiging om werklose jong mense volgens ras te klassifiseer nie, en daar is ook geen verpligting op maatskappye om rasvereistes in advertensies te hê nie. Inteendeel, dit is onwettig om raseksklusiewe advertensies te hê.
Coca-Cola het in ’n brief aan Solidariteit teruggeskryf en onderneem om die advertensies onmiddellik terug te trek. ’n Afskrif van die brief is saam met Solidariteit se verklaring uitgereik.
Intussen gaan Solidariteit voort met ’n proses met Coca-Cola om te verseker dat uitsluitings op grond van ras nie vorentoe weer kop uitsteek nie. Solidariteit beplan ook optrede teen sowat 20 ander maatskappye.








Comments