Die gemiddelde salars by Eskom is nou meer as R1 miljoen
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Jun 1
- 1 min read
Die gemiddelde salaris by Eskom sal nou waarskynlik meer as R1,1 miljoen beloop. Dit kom nadat Eskom se werknemervoordele in twee jaar van R35 miljard tot R48 miljard gestyg het. Hierdie styging van 37% in wernemervoordele is die grootste toename in die geskiedenis van die kragvoorsiener.
MyBroadband berig die data oor Eskom se werknemervoordele is deur die minister van elektrisiteit en energie, Kgosientsho Ramokgopa, in reaksie op ’n parlementêre vraag bekend gemaak.
’n Lid van die Nasionale Vergadering, Kevin Mileham, het Eskom gekritiseer omdat die nutsmaatskappy groot salarisverhogings en bonusse aan personeel toegestaan het terwyl dit op regeringsreddingsboeie en groot tariefverhogings staatmaak om te oorleef. Hy sê die minister moet onmiddellik ingryp om hierdie buitensporige uitbetalings te stop en die fondse aan te wend om die koste van elektrisiteit te verlaag.
Mileham het gesê Eskom kan nie as ’n private welvaartsfonds vir sy werknemers funksioneer terwyl dit terselfdertyd ’n openbare las op elke Suid-Afrikaanse belastingbetaler bly nie. Hy sê Eskom se personeelgetal het jaar-op-jaar met 1 405 mense toegeneem tot 42 030, wat ’n onverklaarbare uitbreiding vir ’n nutsmaatskappy van hierdie omvang en finansiële broosheid is.








Comments