Die Mangaung-metro begin met herstelwerk aan ernstige waterlekke
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- Mar 31
- 1 min read
Die Mangaung-metro het begin met herstelwerk aan ernstige waterlekke in Albrechtstraat, nadat inwoners alarm gemaak het oor grootskaalse vermorsing.
Die watertoevoer na verskeie noordelike voorstede – insluitend Arboretum, Bayswater, Heuwelsig en Dan Pienaar – is Maandag vir sowat agt ure afgeskakel terwyl herstelwerk gedoen is.
Volgens Bloemnuus spruit die probleem uit twee groot lekplekke onder ’n reservoir tussen Happy Valley en Albrechtstraat, waar water by een punt selfs in ’n pompkamer uit die pyp spuit.
Intussen ervaar die suidelike dele van Bloemfontein ook druk op watervoorsiening, weens slik wat die vloei van rou water vanaf die Welbedachtdam belemmer.
Dit raak onder meer Dewetsdorp, Wepener en dele van die stad, met inwoners wat lae waterdruk en beperkte toevoer kan ervaar.
Tegniese spanne werk tans om die stelsel te herstel, en inwoners word gevra om water spaarsamig te gebruik terwyl die situasie stabiliseer.








Comments