Die Mangaung-metro ontken dat Naval Hill te koop is
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- Aug 3
- 1 min read
Die Mangaung Metro Munisipaliteit ontken gerugte dat Naval Hill en ander munisipale bates te koop is.
Die metro voeg in ‘n mediaverklaring by geen besluit is geneem om van enige munisipale eiendom ontslae te raak nie.
Voorstelle is wel ontvang om sekere onderbenutte eiendomme beter te benut en beleggings te lok om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder.
Daar word beklemtoon dat enige voorstelle eers deeglik beoordeel sal word en, waar nodig, deur die raad goedgekeur moet word.
Inwoners word aangeraai om op amptelike kommunikasie staat te maak en nie onbevestigde berigte te glo nie.
Intussen het Rosestad-nuus vroeër berig dat die verkoop of verhuring van 153 munisipale eiendome in die metro nie mag voortgaan nie.
Dit na ‘n skikking wat buite die hof bereik is. Volgens AfriForum is ‘n interdik nou van krag wat enige verdere vervreemding van geskiedkundige terreine soos Naval Hill in die Franklin-natuurreservaat verhoed.
Luidens ‘n verklaring moet die munisipaliteit nou binne 15 dae bewyse lewer dat die regmatige proses wel gevolg is om dié eiendomme te vervreem.








Comments