Die MK-party veroordeel bespiegelinge oor Zuma se dood

Die uMkhonto weSizwe-party (MK-party) in KwaZulu-Natal het berigte veroordeel waarin daar bespiegel word oor die moontlike dood van sy leier, voormalige president Jacob Zuma, en sy gesondheid verbind word met ’n moontlike militêre ontplooiing en onrus in die provinsie.
Die party se reaksie volg nadat berigte verskyn het dat Zuma by die Netcare St Anne’s-hospitaal in Pietermaritzburg opgeneem is vir ’n roetine-mediese ondersoek.
IOL berig volgens die MK-party ondergaan Zuma twee keer per jaar so ’n ondersoek. Bespiegeling oor Zuma se gesondheid het egter ná sy opname in die hospitaal toegeneem.
Die MK-party se provinsiale verkiesingswoordvoerder in KwaZulu-Natal, Mkhuseli Mlengane, doen ’n beroep op die publiek om op amptelike kommunikasie van die party staat te maak en nie onbevestigde bewerings of sensasionele opskrifte te versprei nie.
Intussen sê die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, Zuma se gesondheidstoestand behoort ’n private aangeleentheid te bly.
EWN berig Ntshavheni sê Zuma ontvang mediese sorg onder toesig van die chirurg-generaal van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, soos deur amptelike protokolle vir voormalige staatshoofde bepaal word.
Sy doen ’n beroep om Zuma se persoonlike privaatheid te respekteer en sê iemand se prominente posisie beteken nie dat dié persoon sy reg op privaatheid prysgee nie.









Comments