Die OVK moet miljoene stembriewe voor die plaaslike verkiesing herdruk

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) werk onder druk om miljoene stembriewe voor volgende week se plaaslike regeringsverkiesing te herdruk.
Volgens eNCA wil die OVK die drukwerk teen Vrydag afhandel ná ’n uitspraak deur die Konstitusionele Hof ten gunste van die ANC. Die uitspraak vereis dat stembriewe aangepas word om 181 bykomende ANC-kandidate en kandidate van 32 ander politieke partye in te sluit.
Die OVK se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê kragonderbrekings weens vandalisme en probleme met die elektrisiteitsvoorsiening het sommige drukwerk vertraag, maar die kommissie werk daaraan om dié probleme op te los voordat spesiale stemmery Maandag begin.
Die OVK is ook bekommerd oor die veilige hantering en verspreiding van verkiesingsmateriaal. Sowat 188 000 verkiesingsbeamptes sal hiermee help, en politieke partye word gewaarsku om nie by bergingsfasiliteite of die verspreiding van materiaal in te meng nie.









Comments