Die raaisel van die Russiese vrag in Upington is opgelos
- Ilde Roos

- Oct 19
- 1 min read
Die raaisel om die geheimsinnige inhoud wat aan boord van ’n Russiese vragvliegtuig op Upington aangekom het, is opgeklaar.
Rapport berig die vlug het toerusting teruggebring wat deur ’n groep Suid-Afrikaanse huursoldate in die Puntland-streek in Somalië gebruik is. Die vrag het minstens twee Gazelle-helikopters ingesluit.
Die presiese besonderhede van die projek in Somalië is onbekend, maar die vrag is vermoedelik teruggestuur nadat daar ’n haakplek in die operasie was.
Bosaso in Puntland staan bekend as ’n basis van waar wapens en huursoldate uit Colombia na die konflikgeteisterde Soedan ontplooi word. Hulle kom Puntland dikwels via die Libiese hawestad Benghazi binne.
Die vliegtuig behoort aan Abakan Air, ’n lugvragmaatskappy wat uit Moskou werk.
Rosestad-nuus het vroeër berig nadat die vliegtuig op Upington geland het, het doeanebeamptes en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingegryp omdat die vlug se papierwerk nie in orde was nie.
In daardie stadium was dit nie bekend wat aan boord die vliegtuig was nie.



Comments