Die regering waarsku die publiek teen aanhitsing tot geweld

Die regering het lede van die publiek gewaarsku om nie sosiale media te gebruik om geweld teen buitelandse burgers aan te hits nie.
Dit volg op pogings om buitelandse burgers in Gauteng en KwaZulu-Natal te beskerm.
Die regering het kommer uitgespreek oor mense wat waninligting op sosiale media versprei. Die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê aanhitsing tot geweld en intimidasie sal nie geduld word nie.
Rosestad-nuus het vroeër berig die Suid-Afrikaanse Polisiediens het sedert Donderdag 30 mense in KwaZulu-Natal en Gauteng in hegtenis geneem vir misdrywe wat openbare geweld, onwettige byeenkomste en weerstand teen arrestasie insluit.
Die onrus hou verband met spanning oor immigrasie en die verwerking van asielaansoeke, nadat ’n regeringsdirektief en ’n hofbeslissing wyd bespreek en volgens die owerhede ook verkeerd geïnterpreteer is. Die betogings het in sekere gebiede tot botsings, skade aan eiendom en ontwrigting gelei.
’n Polisiewoordvoerder sê die polisie bly regoor die land op hoë gereedheid.









Comments