Die SUT verander lewens met 3D-gedrukte prosteses

’n Projek van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein het die lewens van meer as 5 000 pasiënte in Suid-Afrika se openbare en private gesondheidsektor verander deur pasgemaakte mediese toestelle en prosteses met behulp van 3D-drukwerk te vervaardig.
Netwerk24 berig die projek behandel pasiënte met ernstige misvormings wat deur kanker, trauma of aangebore toestande veroorsaak is. Dit kombineer mediese wetenskap met gevorderde meganiese ingenieurswese en 3D-drukwerk.
Rosestad-nuus se Ilde Roos verduidelik verder sowat 300 pasiënte is reeds met behulp van skenkings gratis behandel.
LUISTER HIER:
TRANSKRIPSIE:
Die projek, wat deur die SUT se sentrum vir vinnige prototipering en vervaardiging (CRPM) bedryf word, het Afrika se eerste titanium-3D-drukker geïnstalleer en is die eerste instelling in Afrika wat internasionaal gesertifiseer is om mediese toestelle met behulp van 3D-drukwerk te vervaardig. Die sentrum het ook verskeie ingewikkelde mediese toestelle ontwikkel wat die eerste van hul soort in Afrika is, waaronder pasgemaakte inplantings vir die bokaak.
SUT-studente in meganiese ingenieurswese dra ook tot die projek by deur oplossings te ontwikkel vir kinders met gestremdhede wat sukkel om rekenaars te gebruik. Hul ontwerpe word tans in 3D-gedrukte toestelle omskep.









Comments