Die Vrystaatse onderwysdepartement skuld 'n werknemer 'n jaar se salaris
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Jan 24
- 1 min read
Die Vrystaatse departement van onderwys skuld ’n werknemer ’n jaar se salaris nadat sy glo aangestel is terwyl haar pos glo onder moratorium geplaas is.
Netwerk24 berig die departement kon egter nooit dokumentasie of bewyse van die beweerde moratorium voorlê nie.
Leanne Coetsee van Tweespruit in die Vrystaat sê sy sit al vir ’n jaar sonder ’n salaris en met haar hande in die hare. Sy is die administratiewe beampte by die Unicom Primary School.
Die Bedingingsraad vir die Algemene Staatsdienssektor (GPSSBC) het in November verlede jaar beslis dat die departement ’n jaar se salaris aan Coetsee moet betaal en dat sy onmiddellik weer na die werk moet terugkeer. Die uitspraak volg nadat Solidariteit namens Coetsee arbitrasie gevoer het oor haar onbillike ontslag. Volgens die arbitrasie-uitspraak was haar aanstelling geldig en regmatig.
Die woordvoerder van die Vrystaatse departement van onderwys, Howard Ndaba, het nie op navrae gereageer nie.







Comments