Die Westdene-buurtvereniging moet ophou om openbare areas af te sper

Die Mangaung-metro dreig om die Westdene-buurtvereniging hof toe te sleep indien die vereniging nie onmiddellik ophou om openbare parke in Bloemfontein af te sper en toegang te beperk nie.
Netwerk24 berig Moroka Prokureurs, wat namens die metro optree, het in ’n formele aanmaningsbrief aan die voorsitter en lid van die uitvoerende komitee van die Westdene-buurtvereniging, Michael Deutschmann, geëis dat die vereniging dié praktyk onmiddellik staak.
Die prokureurs voer aan dat die vereniging se Adopt-a-Park-ooreenkoms nie aan die vereniging eiendomsreg of onbeperkte beheer oor die parke verleen nie. Luidens die brief kan die aanhou van springbokke nie geregverdig word indien voorstelle nie in daardie verband aanvaar is nie.
Die Westdene-buurtvereniging moet ophou om toegangsgeld vir munisipale parke te hef, tensy dit skriftelike magtiging het. Alle hekke en toegangsbeheer moet verwyder of gedeaktiveer word om die publiek 24 uur per dag onbeperkte toegang te gee.
Verdere oprigting van heinings en hekke moet gestaak word, en die oorblywende springbokke moet onder toesig van die betrokke departement en die DBV verskuif word.
Deutschmann het gesê hul prokureurs sou Dinsdag ’n reaksie indien.









Comments