Dierewelsyn vra vir 'n verbod op donkies slag
- Saamgestel deur Ilde Roos

- May 4
- 1 min read
Dierewelsynsorganisasies wil hê dat die kommersiële slag van donkies vir hul velle in Suid-Afrika verbied word. Dit kom nadat nagenoeg 180 uitgeteerde donkies in April by ’n geregistreerde perdeslagpale in Schweizer-Reneke in Noordwes aangetref is.
Maroela Media berig verskeie donkies was glo in so ’n swak toestand dat hulle nie kon staan nie, terwyl ander maer, beseer en met parasiete oortrek was.
Volgens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het ’n roetine-inspeksie by die Brievo-slagpale in ’n saak van “ernstige lyding en wreedheid” ontaard. Die inspeksie was aanvanklik daarop gemik om vas te stel of donkies by die slagpale op ’n menslike wyse hanteer en geslag word. Die NDBV sê daar was min kos en geen voedingskedule vir die diere nie. Sommige donkies moes uitgesit word om hul lyding te beëindig.
Die NDBV sê die slag van donkies is nie onwettig nie, maar dieremishandeling is wel. Die oorblywende donkies is later wettig geslag.
Die stigter van die Karoo-donkiehawe, Jonno Sherwin, sê Suid-Afrika se bestaande wetgewing bied nie genoegsame beskerming aan donkies nie. Volgens Sherwin mag donkies tans slegs by geregistreerde perdeslagpale geslag word, waarvan daar baie min in die land is.
Hy sê die groot leemte is dat daar nie spesifieke wetgewing is wat die handel in donkievelle reguleer of verbied nie.
Die handel in donkievelle word hoofsaaklik deur die vraag uit China aangevuur, waar die velle gebruik word vir onder meer in tradisionele medisyne en kosmetiese produkte.








Comments