Drie is vas vir afpersing op die N8
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Jul 14
- 1 min read
Drie verdagtes is op die N8 tussen Botshabelo en Thaba Nchu in die Vrystaat deur polisielede, wat nie aan diens was nie, in hegtenis geneem ná 'n afpersingsinsident waarin 'n taxibestuurder en sy passasiers geteiken is.
Volgens 'n polisieverklaring het 'n bakkie roekeloos voor die taxi stilgehou om dit te dwing om tot stilstand te kom. Die mans het geld van die taxi-bestuurder geëis aangesien hy glo op "hul" roete gewerk het.
Die taxi-bestuurder het 'n geldige langafstandvervoerpermit getoon, maar die mans het die passassiers uit die voertuig gedwing. Toe die bestuurder verduidelik dat hy nie kontant by hom het om aan hul eise te voldoen nie, het een van die verdagtes begin om die passasiers se bagasie uit die sleepwa af te laai.
Uit vrees vir hul veiligheid in die ysige temperature het die gestrande passasiers geld bymekaar gesit. Altesaam R2 500 is ingesamel en aan die bestuurder gegee, wat dit as losprys aan die verdagtes oorhandig het, en hulle kon hul reis voortsit.
Die polisielede wat nie aan diens was nie, het die verdagtes opgespoor en in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting binnekort in die landdroshof op Thaba Nchu verskyn.








Comments