Drie Vrystaatse dorpe het E. coli in die water

E. coli is opgespoor in die water wat aan Jacobsdal, Koffiefontein en Petrusburg verskaf word, en inwoners word genoodsaak om hul water te kook.
Die munisipale bestuurder van die Letsemeng-munisipaliteit, Mbulelo Jafta, sê in ’n verklaring die voorkoms van E. coli hou nie verband met ’n gebrek aan chemikalieë vir waterbehandeling nie. E. coli is by die gebruikspunt in die waterverspreidingstelsel opgespoor en nie by die watersuiweringsaanleg nie.
Netwerk24 berig Jafta sê dit sal voortydig wees om die voorval aan ’n spesifieke oorsaak toe te skryf of sonder stawende bewyse tot die gevolgtrekking te kom dat nalatigheid plaasgevind het.
Ná die aanvanklike opsporing is regstellende maatreëls ingestel, en geen E. coli kon in die eerste stel opvolgmonsters opgespoor word nie. Die munisipaliteit wag op die uitslae van ’n tweede stel monsters wat Woensdag geneem is.
Intussen moet water steeds gekook word totdat ’n amptelike kennisgewing uitgereik word wat dit ophef.









Comments