Dwelms is in 'n roomysbak gevind
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Apr 13
- 1 min read
Agt vermeende dwelmhandelaars is in hegtenis geneem nadat onwettige middels by verskeie huise naby Ventersburg gevind is. By een huis is dwelms en geld gevind wat in ’n roomysbak onder die bed versteek was.
Polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Sersant Palesa Thabana, sê in 'n verklaring tydens die uitvoering van hul operasionele pligte, het lede Sondag inligting ontvang oor dwelmhandelbedrywighede. Hulle is na verskeie geïdentifiseerde huise, en het by die eerste adres toestemming gekry om te deursoek. Tydens die deursoeking het lede dwelms en geld in 'n roomysbak onder die bed gevind.
Twee verdagtes is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms en dwelmhandel. Lede het daarna na die volgende adres beweeg waar twee mans in hegtenis geneem is nadat dwelms, dagga en geld in hul besit gevind is. Tydens die derde voorval het die polisie ’n man en 'n vrou in hegtenis geneem, en daarna by die laaste huis is nog twee mans gearresteer.
Tydens die deursoekingsoperasies het die polisie mandrax-tablette, kristalmetamfetamien, dagga en ongespesifiseerde bedrae geld, wat vermoedelik opbrengste van misdaad is, gekonfiskeer.
Die agt verdagtes sal binnekort in die Ventersburg-landdroshof verskyn.








Comments