Fannie Masemola is op voorsorgskorsing geplaas
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Apr 24
- 1 min read
Die nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola, is op voorsorgskorsing geplaas. SABC News berig president Cyril Ramaphosa het luitenant-generaal Puleng Dimpane as waarnemende nasionale polisiekommissaris aangestel.
Die ANC het Masemola se voorsorgskorsing verwelkom. ANC-LP Dikeledi Direko sê hulle hoop dit sal stabiliteit in die polisiediens bring.
Die DA het Ramaphosa versoek om onmiddellike en beslissende stappe te doen om die Suid-Afrikaanse Polisiediens skoon te maak deur beamptes wat by misdaad betrek word, te verwyder. DA-leier Geordin Hill-Lewis sê die skorsing van hooggeplaastes dui op ’n groot integriteits- en aanspreeklikheidsprobleem aan die bopunt van ons polisieleierskap.
Die VF Plus-LP, Wouter Wessels, sê hoewel hulle Masemola se voorsorgskorsing verwelkom, is hulle bekommerd oor Dimpane se aanstelling, aangesien daar finansiële wanbestuur onder haar toesig as hoof finansiële beampte was.
Rise Mzansi het ook Masemola se voorsorgskorsing verwelkom.
Rosestad-nuus het vroeër berig Masemola het dié week in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur in verband met die 360 miljoen rand polisie-gesondheidsdienste-tender wat aan beweerde kartel-lid Vusimuzi Cat Matlala toegeken is.






Comments