Gemeenskapslede word glo verhoed om Parkweg skoon te maak
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Dec 3, 2025
- 1 min read
Gemeenskapslede van Bloemfontein wat skoonmaakwerk naby die Toerismesentrum en Stadion-swembad in Parkweg wou verrig, is glo deur munisipale werknemers gekonfronteer en verhoed om die veldtog voort te sit.
DA-raadslid in die stad, Frans Bothma, sê die DA het met die skoonmaakaksie begin ná verskeie klagtes deur die gemeenskap oor die vuil toestande in Parkweg.
Volksblad berig met hul aankoms by die Stadion-swembad is gemeenskapslede glo deur die swembad-toesighouer gekonfronteer, wat permitte en skriftelike toestemming van die munisipale bestuurder verlang het. Bothma sê die werk is egter op ’n openbare terrein gedoen. Hy sê die toesighouer, met ondersteuning van gehuurde veiligheidspersoneel, het probeer verhoed dat raadslede ’n wettige skoonmaakveldtog uitvoer.
Hy voeg by die munisipale werknemers se weerstand ondermyn die raadslede se vermoë om die inwoners te dien.
Die munisipale woordvoerder, Qondile Khedama, het nie op navrae gereageer nie.







Comments