Ian Roberts kry internasionale Emmy-benoeming

Die Suid-Afrikaanse akteur Ian Roberts is vir ’n Internasionale Emmy-toekenning benoem vir sy rol in die plaaslike rolprent A Kind of Madness.
Volgens Netwerk24 is Roberts benoem in die kategorie vir beste vertolking deur ’n akteur. Die Internasionale Akademie vir Televisiekuns en -wetenskappe het die benoemings vandeesweek bekend gemaak.
Roberts ding mee teen Javier Cámara van Spanje, Ricardo Darín van Argentinië en die Britse akteur Bobby Schofield.
A Kind of Madness, wat deur Wolflight vervaardig is, het Roberts vroeër vanjaar ook die SAFTA vir beste akteur in ’n vollengte rolprent besorg.
Suid-Afrika het vanjaar nog ’n Internasionale Emmy-benoeming ontvang, met The Philipstown Wirecar Grand Prix wat in die kategorie vir beste sportdokumentêr meeding.
Altesaam 64 benoemings uit 22 lande is oor 16 kategorieë aangekondig. Die wenners word op 23 November tydens die Internasionale Emmy-toekenningsgeleentheid in New York bekend gemaak.








Comments