Johnson wil uit haar pos as Idac-hoof bedank

Die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie (Idac), Andrea Johnson, het president Cyril Ramaphosa versoek om haar met onmiddellike ingang van haar pligte te onthef.
Hoewel haar kontrak drie maande kennis vereis, wil Johnson haar amp dadelik verlaat.
Haar versoek volg ná haar getuienis voor die Madlanga-kommissie van ondersoek verlede week, waar sy skerp ondervra is oor Idac se besluit om brigadier Dineo Mokwele van Misdaadintelligensie op grond van verkeerde inligting te laat arresteer en vervolg.
Die Nasionale Vervolgingsgesag sê Johnson se brief is ontvang en word verwerk.
BYWERKING:
President Cyril Ramaphosa het die bedanking van die hoof van die Direktoraat vir die Ondersoek van Korrupsie, Idac, Andrea Johnson, met onmiddellike effek aanvaar.
eNCA berig Johnson het die naweek versoek om haar amp te verlaat.
Ramaphosa se besluit volg op 'n aanbeveling deur die minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, wat deur die nasionale direkteur van openbare vervolgings, Andy Mothibi, ondersteun is.
Ramaphosa het Johnson vir haar jare lange diens by die Nasionale Vervolgingsgesag en as hoof van Idac bedank en sy steun vir die stryd teen misdaad en korrupsie herbevestig.









Comments