KRIEKET: Proteas slaan terug teen Australië
- Saamgestel deur Armando Pieters

- Jun 12, 2025
- 1 min read
Die Proteas het hard teruggeslaan op dag een in die Wêreld-toetskampioenskap-eindstryd teen die verdedigende kampioen, Australië, en hulle almal uitgehaal vir 212. Suid-Afrika het die loot gewen en gekies om eerste te boul. Kagiso Rabada was briljant en het vyf paaltjies laat tuimel vir 51 lopies en het goeie ondersteuning van Marco Jansen gekry met sy 3/49. Steve Smith was egter ‘n doring in die SA boulers se vlees en het aan ‘n geduldige beurt van 66 lopies gebou voordat ‘n briljante vangskoot deur Marco Jansen vanaf Aiden Markram hom sien terugstap het kleedkamer toe. Teen uitskeityd was die Proteas egter kniediep in die moeilikheid op 43/4 met Temba Bavuma en David Bedingham wat Donderdagoggend sal kom voortkolf nog 169 lopies agter die Aussies se eerste beurt telling. Reën het die laaste sê gehad in die Protea Vroue se openingswedstryd in hul toer na die Wes-Indiese Eilande toe die tuisspan met vier paaltjies volgens die DLS metode gewen het in Barbados. Die besoekers het 232/9 in hul 50 beurte bymekaar gemaak met Tazmin Brits se 57 wat uitgestaan het. Toe die reën uitsak is die Windies se teiken na 180 aangepas in 34 beurte wat hulle bereik het met nog twee beurte in die bank. Die tweede wedstryd in die reeks van word weer Saterdag op die Three W’s Oval in Cave Hill beslis.






Comments