KRIEKET: Proteas verseker hul plek in die halfeindronde met ’n oorwinning

Die Proteas het hul plek in die Champions Trophy se halfeindronde verseker deur Engeland vir 179 uit te boul en daarna ’n gemaklike sewe-paaltjie oorwinning in Karachi te behaal.
TimesLIVE berig die Suid-Afrikaanse en Australiese spanne reis nou na Dubai, waar Nieu-Seeland Sondag teen Indië speel om hul halfeind-teenstander te bepaal.
Die span wat nie teen Indië speel nie, keer terug na Pakistan vir die tweede halfeindstryd in Lahore.
Rassie van der Dussen (72*) en Heinrich Klaasen (64) het ’n vennootskap van 130 lopies gesmee om die oorwinning te beklink.
Klaasen het as kaptein klaargemaak ná Aiden Markram ’n dyspierbesering opgedoen het.
Marco Jansen (3/15) en Wiaan Mulder (3/42) het Engeland se swak kolfvertoning uitgebuit.







Comments