MIDDAG SPORT: Die Cheetahs mik op nog ’n oorwinning in Tbilisi, Bavuma en Miller help die Proteas en, Agassi vra vir ‘n behoorlike buiteseisoen

Ons begin met rugby-nuus: Die Toyota Cheetahs pak Dinsdag die Iberians van Spanje in die tweede wedstryd van hul Tbilisi-beker-veldtog in die Toyota Challenge. Die wedstryd begin om 12:00 Suid-Afrikaanse tyd in Tbilisi.
Die Cheetahs sal met heelwat selfvertroue die wedstryd aanpak nadat hulle Donderdag hul eerste wedstryd in Georgia met 38-26 teen die Lusitanos van Portugal gewen het. Die spanne was rustyd 21-21 gelykop voordat die Cheetahs in die tweede helfte beheer oorgeneem het.
Volgens die Toyota Cheetahs het die Vrystaters die Lusitanos vroeër vanjaar ook met 54-24 in Bloemfontein geklop. Hulle het daarna die Roemenië A-span met 47-14 en Black Lion met 47-32 geklop.
Die Cheetahs se toer in Georgia bied aan jonger spelers en spelers wat van beserings terugkeer waardevolle wedstrydtyd, terwyl afrigter Frans Steyn ook die geleentheid kry om sy groter groep te evalueer. Die Cheetahs sluit hul Tbilisi-veldtog volgende Sondag teen Black Lion af. Daardie wedstryd begin om 18:00 Suid-Afrikaanse tyd.
In krieket-nuus: Temba Bavuma en David Miller het elk honderdtalle aangeteken toe Suid-Afrika 365-9 behaal en Australië met 32 lopies in die tweede eendag internasionale wedstryd by die Wanderers in Johannesburg geklop het.
Bavuma het 103 lopies van 116 balle geslaan, terwyl Miller ‘n loopbaan-beste totaal van 142 van slegs 93 aflewerings aangeteken het, nadat Markram en De Kock vroeg uitgeval het. Draaiboulers Keshav Maharaj en Bjorn Fortuin het elk twee paaltjies geneem, terwyl Marco Jansen in die 47ste boulbeurt twee paaltjies geneem het om die oorwinning te beklink.
Suid-Afrika het ‘n voorsprong in die reeks verseker voor môre se finale eendag internasionale wedstryd by die JB Marks-ovaal in Potchefstroom.
En, in tennis-nuus: Voormalige wêreldnommer-een, Andre Agassi, het ’n beroep gedoen op ’n behoorlike afseisoen vir uitgeputte tennisspelers, terwyl hy hom voorberei om die Wêreldspan teen Europa in die Laverbeker in Londen aan te voer.
Die agtmalige Grand Slam-kampioen sê die besige kalender, met die Davisbeker wat eers op 29 November eindig en die nuwe seisoen enkele weke later begin, behoort hersien te word sodat spelers genoeg tyd kry om te herstel.
Agassi sê egter hy sal nie die Laverbeker uit die kalender wil sien verdwyn nie, omdat die toernooi die nalatenskap van Australiese tennislegende Rod Laver eer en volgens hom ’n belangrike plek in die sport het.








Comments