MIDDAG SPORT: Die Cheetahs verloor teen die Iberians in Tbilisi, Miller se Pienkdag-honderd is spesiaal vir sy ma en, Manchester City wag op ‘n uitspraak in die Premierliga-saak

In ruby-nuus: Die Toyota Cheetahs het Dinsdag teen die Iberians van Spanje met ‘n telling van 22-19 verloor in hul tweede wedstryd van die Toyota Challenge se Tbilisi-beker.
Rugby Mag berig die Iberians het rustyd met 19-7 voorgeloop, maar die Cheetahs het sterk teruggeveg. Ntokozo Makhaza het twee drieë gedruk, met sy tweede drie se doelskop wat die telling sewe minute voor die einde op 19-19 gebring het.
Die Iberians het egter in die laaste minuut ’n strafskop gekry, wat Agustin Cittadini oorgestuur het om die wedstryd met 22-19 te beklink.
Die Cheetahs het hul Tbilisi-veldtog Donderdag met ’n 38-26-oorwinning oor die Lusitanos van Portugal begin, nadat die spanne rustyd 21-21 gelykop was.
Die Vrystaters het vroeër vanjaar ook die Lusitanos met 54-24 in Bloemfontein geklop.
Kaptein Marco Jansen van Vuren het ook vir die eerste keer die span aangevoer, terwyl Daniel Maartens vir die eerste keer op binnesenter begin het.
Die Cheetahs sluit hul Tbilisi-veldtog Sondag teen Black Lion van Georgia af.
In krieket-nuus: David Miller het sy ma, Jenny, emosioneel gemaak met ’n rekord 142 van net 93 balle in Suid-Afrika se 32-lopie oorwinning oor Australië in die Pienkdag-wedstryd op die Wanderers.
Die Proteas-kolwer het sy agtste eendaghonderdtal aangeteken, terwyl sy ma se naam op sy pienk trui verskyn het nadat sy die wedstryd as een van die borskankeroorwinnaars bygewoon het.
Miller sê die mylpaal en sy Speler-van-die-Wedstryd-toekenning was besonders omdat albei sy ouers daar was ná die uitdagings wat sy familie die afgelope paar jaar beleef het. Hy hoop sy vertoning wys dat hy steeds ’n belangrike rol vir die Proteas by volgende jaar se Wêreldbeker kan speel, met die derde en laaste eendagwedstryd teen Australië môre in Potchefstroom.
En, in sokker-nuus: Manchester City wag steeds op ‘n finale sanksie in hul regsgeding met die Premierliga, ten spyte van berigte dat die klub skuldig bevind is aan al die aanklagte, behalwe een, wat met beweerde finansiële wangedrag verband hou.
Moontlike strawwe kragtens die Premierliga se reëls sluit ‘n boete, punteaftrekking of skorsing in en daar word verwag dat City teen enige beslissing appèl sal aanteken, wat moontlik die saak wat begin het nadat uitgelekte dokumente in 2018 aan die lig gekom het sal verleng.
Mededingende klubs kan moontlik finansiële vergoeding eis, terwyl daar debat gevoer word oor of Manchester City se titels en trofeë uit die tydperk waarop die aanklagte betrekking het, geraak kan word.








Comments