Liebenberg: Beweerde bedrieër se broek word opgeveil
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Oct 16
- 1 min read
Die vermeende diamantbedrieër Louis Liebenberg se bates word opgeveil – van bokhorings en mynmasjinerie tot ’n broek.
Netwerk24 berig die aanlyn veilings het Dinsdag begin. Dis deel van die proses om geld terug te kry vir die duisende beleggers wat glo deur Liebenberg bedrieg is.
Die bates wat onder die hamer kom, sluit persoonlike besittings en luukse goedere in. Swaar grond-verskuiwings-masjinerie van Liebenberg se myn aan die Noord-Kaapse kus word opgeveil, en bates van sy ondernemings, soos die gelikwideerde Tariomix, Anolascore en Die Waarheid Radio, word in Pretoria verkoop.
’n Verskeidenheid van persoonlike goedere is ingesluit, soos ’n kitaar en klankversterker, ’n geraamde portret van oudpresident Jacob Zuma en selfs ’n gemsbokhoring, ’n koedoehoring en 'n broek.
Liebenberg het glo beleggers se geld aan luukse items, onder meer Krugerrande, bestee.
Hy en sy vrou, Dezzi, staan saam met sewe medebeskuldigdes tereg op aanklagte van bedrog, diefstal, afpersing en geldwassery.



Comments