Malema hou vol die reg wil sy politieke stem stil maak
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Jan 24
- 1 min read
Die leier van die EFF, Julius Malema, hou vol die regsprosedures in sy vuurwapensaak is 'n berekende poging om sy politieke stem stil te maak.
EWN berig die landdroshof in Oos-Londen het Vrydag die saak tot 15 April uitgestel, wanneer vonnisoplegging na verwagting sal plaasvind. Malema is skuldig bevind aan die nie-nakoming van vuurwapenregulasies toe hy in 2018 'n geweer afgevuur het voor 'n skare van ongeveer 20 000 ondersteuners.
Intussen berig News24 dat AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, sê hulle is tevrede met Vrydag se verrigtinge. Hy sê Malema moet hom vir lang tronkstraf voorberei. Hy voeg by politici kan nie ander reëls as die man op straat hê nie.
Malema se regspan het die staat se bewering verwerp dat die oplegging van ‘n boete daarop sou neerkom dat hy homself uit ‘n tronkstraf sou koop. Newskoop berig tydens die kruisondervraging van ‘n maatskaplike werker, Jessie Thompson, het die aanklaer, Joel Caeser, voorgestel dat die oplegging van ‘n boete Malema in staat sou stel om geld te gebruik om gevangenisstraf te vermy. Dit het gevolg op Thompson se voorstel dat Malema ‘n opgeskorte boete eerder as ‘n gevangenisstraf moet ontvang.
Rosestad-nuus het vroeër berig 'n private maatskaplike werker, Jessie Thompson, het ter strafversagting getuig. Sy het ook gesê Malema het onder andere 'n sopkombuis in sy tuisdorp. Hierop het die regter gereageer dat daar niks spesiaal aan 'n sopkombuis is nie, en dat dit regoor die land voorkom.
Malema sê dit maak nie saak wat die landdros besluit nie, die rewolusie sal voortgaan.






Comments