Malema sê Ramaphosa moet bedank
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 6 hours ago
- 1 min read
Die EFF-leier, Julius Malema, sê president Cyril Ramaphosa moet bedank en op die parlementêre proses oor die Phala Phala-aangeleentheid fokus.
Die konstitusionele hof in Braamfontein in Johannesburg het beslis die parlement moet ’n komitee op die been bring om met ’n proses te begin om Ramaphosa moontlik in ’n staat van beskuldiging te plaas.
Netwerk24 berig honderde EFF-ondersteuners het buite die hof die uitspraak verwelkom. Malema sê die Grondwet het in die hof gewen en hulle is “baie gelukkig” daaroor. Hy het ook na die ANC gekap en gesê die party is “ ’n klomp narre” wat nie behoorlik die Phala Phala-aangeleentheid deurdink het nie.
Malema sê die parlementêre komitee wat die ondersoek sal behartig, moet onmiddellik tot stand kom, en hulle sal nou moet sien of DA saam met hulle gaan staan.
Ramaphosa het Vrydag aangedui hy respekteer die hofuitspraak en sal sy volle samewerking met alle prosesse gee.
Rosestad-nuus het vroeër berig die land se hoogste hof het bevind die parlement se stemmery oor die Phala Phala-aangeleentheid was “ongrondwetlik en ongeldig”. Luidens ’n onafhanklike verslag is daar ’n prima facie-saak teen Ramaphosa weens die diefstal van meer as $500 000 uit ’n rusbank op sy wildplaas in Limpopo.








Comments