Meer as R1 m. se onwettige sigarette is in ‘n minibus gekry
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Aug 7
- 1 min read
'n Man is in hegtenis geneem nadat onettige sigarette met 'n beraamde waarde van R1,2 miljoen gevind is in die minibus waarin hy gery het.
Volgens 'n polisiewoordvoerder het lede van die honde-eenheid van Welkom in die Vrystaat ’n verdagte wit Toyota-minibus opgemerk wat tussen Welkom en Odendaalsrus gery het.
Die voertuig is voorgekeer en toestemming is gevra om dit te deursoek. Tydens die deursoeking het die polisie 89 kratte met vermoedelik vervalste goedere ontdek. Met voorlopige ondersoeke is daar bevestig dat die sigarette onwettig en vervals is.
Die sigarette en die voertuig wat na bewering tydens die pleging van die misdaad gebruik is, is gekonfiskeer.
Die verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van vermoedelik vervalste goedere, asook vir die oortreding van die Immigrasiewet. Hy sal na verwagting binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn.








Comments