MIDDAG SPORT: Bosch skitter terwyl die Protea-vroue voorloop, Sri Lanka se toer sluit T20’s, ‘n eendagreeks en toetse in en, Antonelli versterk sy aanspraak op die titel

Ons begin met krieket-nuus: Anneke Bosch het weereens skitterend met die kolf gevaar toe die Protea-vroue Zimbabwe met 64 lopies in Bulawayo geklop het om ‘n voorsprong van 2-0 in die reeks van vyf T20-internasionale wedstryde te verkry.
Bosch het 65 lopies van 31 balle geslaan, terwyl Faye Tunnicliffe op 52 en Annerie Dercksen op 36 onoorwonne gebly het en Suid-Afrika ‘n totaal van 193-3 op die telbord geplaas het.
Seshnie Naidu het daarna haar loopbaan-beste behaal met syfers van 3-26 en Bosch het 2-5 geneem om te help om Zimbabwe tot 129-7 te beperk.
Bosch sê sy is bly om terug te wees in die Suid-Afrikaanse span, aangesien die Protea-vroue die reeks wil beklink wanneer die derde T20-internasionale wedstryd Dinsdag op dieselfde terrein gespeel word.
Steeds by krieket: Sri Lanka sal volgende maand na Pakistan toer vir drie T20-wedstryde, gevolg deur ’n drienasie-eendagreeks waarin Engeland ook betrokke is, voordat die spanne in November in ’n twee-toetsreeks kragte meet.
Die T20-reeks word van 9 tot 13 Oktober in Rawalpindi gespeel, waarna Pakistan en Sri Lanka op 18 Oktober in die eerste wedstryd van die drienasie-reeks teen mekaar uitdraf. Sri Lanka speel op 22 Oktober teen Engeland, met die reeks wat daarna na Lahore verskuif vir die eindstryd op 31 Oktober, terwyl die toetsreeks op 9 November in Rawalpindi begin en die tweede toets vanaf 17 November in Lahore plaasvind.
Sri Lanka se vorige toetstoer na Pakistan was in 2019, toe hulle die twee-toetsreeks met 1-0 verloor het, maar die T20-reeks met 3-0 gewen het.
En, in motorsport-nuus: Kimi Antonelli het sy voorsprong in die Formule Een-wêreldkampioenskap vergroot deur die Spaanse Grand Prix te wen en het nou ‘n voorsprong van 81 punte bo sy naaste mededinger, na agtste oorwinning van die seisoen.
Die 20-jarige Italianer het by Lando Norris se terugslag baat gevind toe die McClaren-jaer weens die ontplooiing van ’n virtuele veiligheidsmotor na die derde plek teruggesak het.
Antonelli het voor Max Verstappen geëindig, terwyl sy Mercedes-spanmaat, George Russell, vyfde gekom het.
Antonelli het erken dat Norris die oorwinning verdien het nadat hy die eerste 15 rondes voor geloop het, maar sê dat hy nie van plan is om stadiger te werk te gaan nie en wil aanhou om te druk en in elke wedren sy beste te lewer.









Comments