MIDDAG SPORT: Die Blitzbokke is gereed om hul vesting in Dubai te verdedig, Nortjé is vasbeslote om elke geleentheid aan te gryp en, De Villiers beweer balpeutery het reeds in Durban begin

In rugby-nuus: Die Springbok-sewesrugbyspan het in Dubai aangekom, vasbeslote om hul indrukwekkende rekord by The Sevens Stadium te behou, waar die openingstoernooi van die 2027 HSBC SVNS-reeks hierdie naweek plaasvind.
Ryan Oosthuizen, wat voorberei vir sy negende toernooi in die Arabiese woestyn, glo die Blitzboks kan weer sukses behaal, aangesien hulle reeds ses trofeë in Dubai ingepalm het.
Hy sê die bekende hitte kan in Suid-Afrika se guns tel, maar beklemtoon dat die span hul rolle moet uitvoer, hul duikslae moet maak en in elke wedstryd hul beste moet lewer, veral onder die nuwe formaat met agt spanne.
Oosthuizen sê die mededinging is straf, met minstens ses spanne wat in staat is om 'n toernooi te wen.
In krieket-nuus: Die Proteas-snelbouler, Anrich Nortjé, besef sy krieketloopbaan is op geleende tyd, maar wil ’n impak maak elke keer wanneer hy die geleentheid kry om te speel.
Ná ’n liesbesering hom uit die derde toets teen Australië gehou het, het hy sy terugkeer in die tweede toets teen Bangladesh gemaak.
Nortjé sê hy het nie tyd om terug te hou nie en sal beskikbaar wees solank sy liggaam dit toelaat, met die doel om so gereed moontlik vir elke wedstryd te wees.
Hy erken dit was frustrerend om die oorwinning oor Australië in Gqeberha van die kantlyn af dop te hou, maar sê sy herstel was goed en dat hy vinnig by die toestande moet aanpas en die bal in die regte gebiede moet plaas.
En, die voormalige Protea, AB de Villiers, beweer dat Australië reeds tydens die eerste toets in Durban in 2018 met die bal gepeuter het, lank voordat Cameron Bancroft in die derde toets in Kaapstad met skuurpapier betrap is.
De Villiers sê beeldmateriaal bewys volgens hom dat die bal reeds in Durban verdag begin terugswaai het en meen die Australiese boulers moes van die bedrog bewus gewees het.
Dít terwyl Usman Khawaja onlangs beweer het die hele span het van die plan geweet.
Sy uitsprake verskil van Bancroft se weergawe dat skuurpapier eers in die tweede toets in Gqeberha [voorheen Port Elizabeth] gebruik is.
LUISTER HIER:










Comments