top of page
ChatGPT Image Mar 5, 2026, 10_59_10 AM.png

MIDDAG SPORT: Reën vertraag die tweede Protea-toets teen Bangladesh, De Villiers wil hê die Bokke moet hul standaarde opskerp en, United is aangespoor om hul nederlaag in motivering te omskep

Writer: Saamgestel deur Jana Roos
Saamgestel deur Jana Roos
4 minutes ago
2 min read

In krieket-nuus: Die tweede en laaste toets tussen die Proteas en Bangladesh in Centurion is deur reën ontwrig, met die loot wat Maandagoggend uitgestel moes word.

 

Volgens Reuters was daar teen laat oggend nog geen bevestigde nuwe begintyd nie.


Suid-Afrika lei die reeks met een-nul ná hul oorwinning met nege paaltjies in die eerste toets by die Wanderers. Die Proteas mik dus na 'n reeksoorwinning, maar sal eers moet wag vir gunstiger weerstoestande om die wedstryd aan die gang te kry.


Aiden Markram lei die span in die afwesigheid van die beseerde Temba Bavuma. Tony de Zorzi en Anrich Nortje is ook in die span, terwyl Bangladesh sonder die beseerde Mushfiqur Rahim en Hasan Mahmud moet klaarkom.

 

In rugby-nuus: Paul de Villiers sê dit is bittersoet dat die Springbokke ondanks hul nederlaag teen Ierland steeds vir die Nasieskampioenskap-eindstryd gekwalifiseer het, waar hulle komende Sondag op Twickenham teen Frankryk te staan kom.


De Villiers erken dat die Bokke ver onder hul standaarde vertoon het en sê daar is steeds ruimte vir verbetering, veral wat betref hul vermoë om uit hul eie helfte te kom en punte aan te teken wanneer hulle in die teenstanders se kwartgebied is. De Villiers hoop om volgende naweek sy eerste toets op Twickenham te speel en sê die Bokke sal die nederlaag deeglik ontleed om hul vertoning in die eindstryd te verbeter.


LUISTER HIER:


Paul de Villiers

 

En, in sokker-nuus: Manchester United-bestuurder, Mauricio Pochettino, het sy spelers aangemoedig om hul frustrasie in positiewe optrede om te skakel, nadat hulle in sy eerste wedstryd aan die stuur 'n vernederende 4-0-nederlaag teen Liverpool gely het.


Dit laat die klub tweede van onder op die Premierliga-punteleer, terwyl Liverpool opskuif na die vierde plek op die punteleer, sewe punte agter die voorlopers, Arsenal.


United het met tien man gespeel nadat Leny Yoro in die agtste minuut op omstrede wyse van die veld gestuur is, met Pochettino wat die voorval as onregverdig bestempel. Die nuut aangestelde afrigter sê sy span moet hul konsentrasie, besluitneming en algehele vertoning verbeter.


FOTO: The Indian Express
FOTO: The Indian Express

   

 

 

 
 
 

Comments


bottom of page