OGGEND SPORT: Die Proteas oorheers vir Bangladesh, drie Springbokke ontvang gesogte Wêreldrugby-benoemings en, Sinner se Australiese Ope-deelname is in die weegskaal

Ons begin met krieket: Die Proteas het Maandag die tweede toets teen Bangladesh oorheers en die eerste dag op 88-1 afgesluit, net drie lopies agter die tuisspan se skamele totaal van 91, nadat gure weer die aanvang van spel vertraag het.
Marco Jansen het 3-17, Anrich Nortjé 2-10 en Kagiso Rabada 3-23 behaal, om die besoekers se kolfbeurt ná net 91 lopies tot ’n einde te bring.
Die Proteas se openingsvennootskap het 49 lopies opgelewer voordat waarnemende kaptein, Aiden Markram uitgehaal is, terwyl Marques Ackerman se onoorwonne 46 en Zubayr Hamza se nege lopies die Proteas daarna tot binne drie lopies van Bangladesj se totaal geneem het.
In rugby-nuus: Die Springbokke Malcolm Marx, Ox Nche en Paul de Villiers is benoem vir die gesogte Wêreldrugby-toekennings, met Marx en Nche wat vir die tweede agtereenvolgende jaar op die kortlys vir die toekenning as 15s Speler van die Jaar, terwyl De Villiers in die wedloop is vir die toekenning as Deurbraakspeler van die Jaar.
Marx, die huidige Wêreldrugby-speler van die jaar, kan die tweede Suid-Afrikaner word, na Pieter-Steph du Toit wat die toekenning twee keer wen. Nche het intussen weer geskiedenis gemaak as die eerste stut wat vir twee opeenvolgende jare op die kortlys verskyn.
De Villiers ding mee teen drie ander benoemdes, met die wenners wat tydens die Nasieskampioenskap-eindstrydnaweek op Twickenham in Londen, aangekondig word.
En, in tennis-nuus: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Jannik Sinner, se deelname aan die Australiese Ope is onseker nadat bekend geword het dat hy Dinsdag in Finland ’n knieoperasie sal ondergaan.
Die 25-jarige Italianer, wat tweede op die wêreldranglys is, het sedert sy Wimbledon-oorwinning in Julie nie weer tennis gespeel nie en kan moontlik tot vier maande buite aksie wees.
Sinner het vroeër vandeesmaand vertroue uitgespreek dat hy betyds vir die Australiese Ope sal herstel, maar beklemtoon dat hy nie sy terugkeer wil aanjaag nie, terwyl hy ook besig is om spiermassa te herwin nadat hy gewig verloor het ná die verwydering van sy mangels.
Die Australiese Ope se hoofloting begin op 17 Januarie, met Carlos Alcaraz, wat Sondag sy eerste ATP-eindtoernooi gewen het en reeds sewe Grand Slam-titels verower het, as die verdedigende kampioen.










Comments