MIDDAG SPORT: Die Bokke weier om reeds ‘n reeks oorwinning op te eis, Tiafoe dring deur na die kwarteindronde van die VSA-Ope en, Antonelli skryf geskiedenis op Monza

Ons skop af met rugby: Rassie Erasmus en die Springbokke weier om hulself te laat meevoer nadat hulle Nieu-Seeland met 29-24 in ‘n stampvol FNB-stadion geklop en ‘n 2-1-voorsprong in die reeks geneem het.
Die spanne het reeds saam na Baltimore gereis, waar Saterdag se toetswedstryd in die M&T Bank-stadion oor die reeks sal beslis, wat beteken dat ‘n oorwinning vir die Bokke die sal titel beklink, terwyl ‘n oorwinning vir die All Blacks tot ‘n gelykopuitslag van 2-2 sal lei.
Rassie Erasmus sal Maandagaand sy span vir die beslissende wedstryd aankondig, met die Bokke vasbeslote om hul standaarde te handhaaf en die reeks sterk af te sluit.
Die speler van die wedstryd, Ethan Hooker, het die skare in Soweto geprys en gesê die span bly gefokus op verbetering nadat hulle herstel het van die nederlaag in die openingswedstryd.
LUISTER HIER:
In tennis-nuus: Die Amerikaner, Frances Tiafoe, het uitstekend gevaar deur die voormalige kampioen, Daniil Medvedev, in skoon stelle met 7-6, 6-4, 7-6 te klop en vir die vierde keer in vyf jaar tot die kwarteindronde van die VSA-Ope deur te dring.
Tiafoe kom nou te staan teen sy mede-Amerikaner Alex Michelsen, wat sy eerste Grand Slam-kwarteindronde bereik het deur die Argentyn Tomas Martin Etcheverry in skoon stelle te verslaan.
Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, het ook deurgedring ná ‘n oortuigende oorwinning oor Tommy Paul, terwyl die tweemalige kampioen Aryna Sabalenka vir Taylor Townsend geklop het en nou teen Linda Noskova sal speel, na sy vir Marta Kostyuk in drie stelle geklop het.
En, in motorsport-nuus: Andrea Kimi Antonelli het vir Italiaanse Formule Een-ondersteuners ’n droomdag op Monza besorg toe hy die Italiaanse Grand Prix van die 19de wegspringplek af gewen het.
Die 20-jarige Antonelli het George Russell in ’n hewige Mercedes-stryd geklop vir sy sewende oorwinning van die seisoen en het sy kampioenskapvoorsprong tot 66 punte uitgebrei, terwyl Max Verstappen derde, Lando Norris vierde en Oscar Piastri vyfde geëindig het.
Intussen het Ollie Millroy die Nederlandse renjaer Loek Hartog as ’n superheld bedank nadat Hartog hom ná ’n gru-ongeluk in ’n brandende Ferrari by die China GT-ren in Shanghai uit die wrak getrek het, ’n optrede wat volgens Millroy sy lewe gered het.
Millroy, wat vyf gebreekte ribbes, ’n gebreekte sleutelbeen, ’n gebreekte hand en vinger en ’n gekneusde long opgedoen het, het ook die veiligheid by die baan gekritiseer, terwyl sy span sê die motor het langer as ’n minuut gebrand sonder ’n tydige reddingsoperasie.








Comments