OGGEND SPORT: Dupont skuif na losskakel, Suid-Afrikaners mik na groot pryse in die Dubai-gholfseisoen en, Pochettino stem glo in om by Man United oor te neem

Ons begin met rugby: Frankryk se kaptein Antoine Dupont sal Vrydag teen die Springbokke as losskakel uitdraf in ’n belangrike taktiese verandering deur die Franse afrigter, Fabien Galthié.
Volgens Reuters is die besluit genoodsaak deur ’n besering aan Romain Ntamack se skouer. Frankryk het ook nie sy ander eerstekeuse-loskakelopsies, Matthieu Jalibert, Thomas Ramos en Antoine Hastoy beskikbaar nie.
Dupont, wat gewoonlik as skrumskakel speel, sal saam met Maxime Lucu die halwe agterlyn vorm. Dit sal sy eerste toetsbegin op losskakel wees. Die Springbokke het intussen net een verandering aan hul beginspan gemaak wat Italië met 66-7 geklop het. Wilco Louw vervang Thomas du Toit op vaskopstut.
Die wedstryd by die Stade de France in Parys begin Vrydag om tien-oor-tien Suid-Afrikaanse tyd.
In gholf-nuus: Die DP World Tour-seisoen bereik vandag sy hoogtepunt wanneer die DP World Tour-kampioenskap by Jumeirah Golf Estates in Dubai begin.
Vyftig spelers ding tot Sondag om die kampioenskapstitel en die grootste prysfonds op die toer se kalender mee, met tien miljoen Amerikaanse dollar op die spel. Volgens die DP World Tour is daar steeds nege spelers wat die seisoen se Race to Dubai-titel kan inpalm. Die Spanjaard Eugenio Chacarra is tans boaan die punteleer, met Rory McIlroy sy naaste aanspraakmaker.
Suid-Afrika se Casey Jarvis is ook in die wedloop om die seisoentitel, terwyl Jayden Schaper, Hennie du Plessis, Shaun Norris en Thriston Lawrence onder die ander Suid-Afrikaners in die veld tel.
Jarvis, wat vanjaar reeds twee toernooie op die toer gewen het, maak sy buiging by die seisoeneindstryd. Die toernooi word oor 72 putjies beslis, sonder ’n afsnypunt.
En, in sokker-nuus: Manchester United het na bewering 'n mondelinge ooreenkoms in beginsel met die hoofafrigter van die Verenigde State, Mauricio Pochettino, bereik om Michael Carrick te vervang.
Daar word verwag dat Carrick se toekoms bespreek sal word tydens 'n vergadering in Monaco, wat die invloedryke aandeelhouer Jim Ratcliffe en senior klubbestuurders sal insluit, met United tans die 18de plek in die Premierliga.
Carrick se moeilike tydperk is gekenmerk deur teleurstellende uitslae, dissiplinêre kwessies en gespanne verhoudings met senior spelers, alhoewel ondersteuners hul frustrasie grootliks op die klub se eienaars en die span rig.










Comments