MIDDAG SPORT: Die Bulls kry vir Marx terwyl die Sharks vir Libbok verseker, Starc steek die Proteas se Jansen verby en, Parker keer terug na West Ham

In rugby-nuus: Die Bulls het die dienste van die Springbok-haker, Malcolm Marx, op 'n langtermynkontrak vanaf Julie 2027 bekom, kort nadat hulle ook die Springbok-voorspeler, Kwagga Smith, onder kontrak geneem het.
Die 32-jarige keer terug na Suid-Afrika ná sewe seisoene in Japan en herenig met die Bulls-afrigter, Johan Ackermann, onder wie hy voorheen by die Lions gespeel het.
Intussen het die Sharks aangekondig dat Manie Libbok vanaf Julie 2027 by hulle aansluit op 'n meerjarige ooreenkoms en hy keer terug na Durban, nadat hy vroeër in sy loopbaan reeds vir die Bulls, Sharks en Stormers gespeel het. Die Springbok-losskakel, wat tans in Japan speel, glo in afrigter JP Pietersen se visie vir die Sharks, terwyl Pietersen op sy beurt sê dat Libbok se aanvallende vermoë, ervaring en wenmentaliteit die klub se ambisies om vir trofeë mee te ding, sal versterk.
In krieket-nuus: Australië se Mitchell Starc het na die topposisie op die IKR se toetsboulranglys teruggekeer nadat hy die veelsydige speler Marco Jansen verbygesteek het, na 'n indrukwekkende prestasie van nege paaltjies in die reeks se laaste toetswedstryd.
Jansen, wat onlangs die topposisie ingeneem het, kon in die beslissende toets in Kaapstad slegs drie paaltjies neem, terwyl die Proteas se draaibouler, Simon Harmer, nege plekke opgeskuif het na die sewende posisie, een plek voor Kagiso Rabada. Jansen behou die eerste plek op die ranglys vir veelsydige toetsspelers, terwyl Wiaan Mulder na die derde plek en Harmer na die vyfde plek opgeskuif het ná hul vertonings teen Australië.
En, in sokker-nuus: West Ham het die voormalige Engelse middelveldspeler Scott Parker as hul nuwe bestuurder aangestel op 'n kontrak van twee en 'n half jaar, ná die afdanking van Nuno Espirito Santo.
Parker het voorheen Bournemouth en Burnley gehelp om bevordering uit die Kampioenskap te behaal, en hy kry nou die taak om West Ham terug te bring na die Premierliga, nadat die span verlede seisoen uit die liga gerelegeer is.
Die Hammers beklee tans die agtste plek in die Kampioenskap, ses punte agter die voorloper, Middlesbrough, ná 13 wedstryde. Parker eerste wedstryd aan die stuur was Woensdagaand teen Cardiff, wat met 'n gelykopuitslag van 3-3 geëindig het.









Comments