top of page
ChatGPT Image Mar 5, 2026, 10_59_10 AM.png

MIDDAG SPORT: Die Cheetahs maak gereed vir ’n Europese uitdaging, ‘n wêreldwye simposium oor atlete se breingesondheid word aangebied en, die Flexbrands knights soek ’n oorwinning

Writer: Saamgestel deur Jana Roos
Saamgestel deur Jana Roos
Oct 14
2 min read

Ons skop af met rugby: Die Toyota Cheetahs maak gereed vir hul eerste wedstryd in die nuwe EPCR Challenge Cup-seisoen wanneer hulle Sondag die Franse span Aviron Bayonnais in Bayonne pak.


Die Vrystaters het hul groep vir die Europese veldtog aangekondig. Die span sluit onder meer die ervare skrumskakel Faf de Klerk, asook Michael Annies, Cohen Jasper en Henry Immelman in. Die Cheetahs is saam met Ulster Rugby, die Franse spanne USAP en Aviron Bayonnais, Walliese span Dragons RFC en Italiaanse span Zebre Parma in Poel Een geloot.


Volgens die amptelike EPCR-webwerf het Bayonne drie agtereenvolgende oorwinnings in Frankryk se Top 14-kompetisie behaal en sal hulle dié momentum in hul Europese openingswedstryd wil voortsit.


Die Cheetahs sal dus ’n moeilike uitdaging in die gesig staar wanneer hulle Sondag hul Europese veldtog afskop.

 

SA Rugby ondersteun die International Concussion in Sport Group se simposium oor atlete se breingesondheid, wat vooraanstaande internasionale kundiges op 25 en 26 November na Kaapstad sal bring.


Die geleentheid is die eerste van sy soort wat buite die Verenigde State en Europa plaasvind, en volg op verlede jaar se bekendstelling van Suid-Afrika se breingesondheidsdiens, deur 'n vennootskap tussen Wêreld Rugby, SA Rugby en MyPlayers om voormalige elite-spelers te ondersteun. Die tweedaagse program sluit aanbiedings, paneelbesprekings en praktiese werkswinkels in oor die hantering van harsingskuddings, langtermyn- neurologiese gevolge, aanhoudende simptome en atlete se geestesgesondheid.


Amptenare van SA Rugby sê die simposium sal aan Suid-Afrikaanse mediese praktisyns, afrigters en spelers die geleentheid bied om kennis met internasionale spesialiste uit te ruil, die jongste navorsing te verken en ondersteuning vir atlete te versterk.

 

En, in krieket-nuus: Die Flexbrands Knights kry vanaand nog ’n kans om hul eerste oorwinning in die nuwe YesPlay Pro20-beker te behaal wanneer hulle World Sports Betting Eastern Storm op die Mangaung Oval in Bloemfontein pak.


Die Flexbrands Knights het tot dusver swaar gekry in die T20-kompetisie. Hulle het hul vorige wedstryd teen die Kaneez Tuskers met sewe paaltjies verloor, nadat hulle tot 151 vir ses in hul toegelate 20 boulbeurte beperk is. Die Flexbrands Knights se kolwers sal dus moet sorg dat hulle ’n sterker totaal op die telbord plaas, terwyl die boulers en veldwerkers druk op Eastern Storm sal moet toepas.


Die wedstryd begin om 18:00.


Die Toyota Cheetahs maak gereed vir hul eerste wedstryd in die nuwe EPCR Challenge Cup-seisoen. GRAFIKA: Verskaf
Die Toyota Cheetahs maak gereed vir hul eerste wedstryd in die nuwe EPCR Challenge Cup-seisoen. GRAFIKA: Verskaf

 
 
 

Comments


bottom of page