MIDDAG SPORT: Die Proteas benoem die span vir hul Bangladesh-toetsreeks en die Springbok-vroue mik na ‘n sterk vertoning in Kenia

Ons slaan af met krieket-nuus: Krieket Suid-Afrika het 'n groep van 15 spelers aangewys vir die Proteas se komende toetsreeks teen Bangladesh.
Temba Bavuma sal die span aanvoer nadat Suid-Afrika onlangs Australië met twee wedstryde teenoor een in hul toetsreeks geklop het. Kolwer Tony de Zorzi keer terug nadat hy 'n dyspierbesering herstel het, terwyl Zubayr Hamza ook in die groep ingesluit is. Anrich Nortje keer terug nadat 'n liesbesering hom vir twee weke buite aksie gehou het.
Die eerste toets begin op 15 November op die Wanderers in Johannesburg, met die tweede toets vanaf 23 November by SuperSport Park in Centurion.
V
olgens Krieket Suid-Afrika sal die span op 11 November in Johannesburg bymekaarkom om met voorbereiding te begin.
In rugby-nuus: Die Springbokke sê hulle sal Italië nie onderskat wanneer die spanne Saterdag in Turyn in die Nations Championship kragte meet nie.
Heelagter Damian Willemse en slot Ruan Nortje het dié boodskap vandeesweek oorgedra. Italië het wel verskeie sleutelspelers weens beserings verloor, maar die Bokke verwag steeds 'n moeilike toets teen 'n goed afgerigte span.
Die Springbokke wil die wedstryd wen om hul kanse te behou om tot die eindstryd van die nuwe kompetisie deur te dring. Willemse het gewaarsku dat 'n nederlaag hulle waarskynlik uit die stryd om die titel sal haal.
Volgens SA Rugby begin die wedstryd om 13:40 Suid-Afrikaanse tyd.
En, in vrouerugby: Die Springbok-vroue se Sewes-A-span is vasbeslote om hul beste moontlike resultate te behaal, wanneer hulle dié naweek aan die 2026 Rugby Afrika-vrouesewestoernooi in Kenia deelneem.
Kaptein Vianca Boer glo die span se talent en energie sal deurslaggewend wees wanneer hulle Saterdag in Groep A teen Rwanda, Zimbabwe en Zambië te staan kom.
Ses spelers sal vir die eerste keer op internasionale vlak sewesrugby speel en Boer sê die jong groep beskik oor goeie spanbande, ’n sterk werksetiek en ’n bereidwilligheid om te leer.
Boer is self ook opgewonde om terug te keer nadat ’n besering, ’n operasie en maande se rehabilitasie haar langs die kantlyn gehou het. Sy beskou dit as ’n besondere voorreg om die span in die toernooi aan te voer.










Comments