MIDDAG SPORT: Die Springbokke stuur ’n kragtige waarskuwing, Krieket Australië sluit die heropening van die 2018-balpeuterskandaal uit en, Carrick se toekoms as Man United se hoofafrigter is onseker

In rugby-nuus: Die Springbokke het ’n duidelike waarskuwing aan hul teenstanders gestuur met ’n verpletterende oorwinning van 66-7 oor Italië in die Nasieskampioenskap, maar die uitdaging word Vrydag aansienlik groter wanneer hulle teen Frankryk in Parys te staan kom.
Suid-Afrika het Saterdag reeds rustyd met 45-0 voorgeloop en die Italianers se verdediging deurentyd onder groot druk geplaas.
Volgens die Britse koerant The Guardian het die Springbokke besonder indrukwekkend vertoon, met losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu wat as een van die spelers uitstaan wat enige verdediging kan bedreig wanneer hy ruimte kry.
Frankryk het intussen ook ’n sterk vertoning gelewer deur Fidji met 54-17 te klop.
Die kragmeting tussen die Springbokke en Frankryk vind Vrydag om tien minute oor tien Suid-Afrikaanse tyd in Parys plaas. Die twee spanne is tans boaan hul onderskeie poele in die eerste Nasieskampioenskap, en Vrydag se toets kan ’n belangrike rol speel in die bepaling van hul posisie voor die toernooi se eindronde later vandeesmaand.
In krieket-nuus: Die hoof van Krieket Australië, Todd Greenberg, het enige heropening van die ondersoek na die balpeuterskandaal van 2018 uitgesluit, ondanks nuwe bewerings dat meer spelers van die plan geweet het.
Die omstredenheid het weer opgevlam ná die verskyning van die outobiografie van die voormalige Australiese aanvangskolwer Usman Khawaja.
Khawaja beweer dat die hele span geweet het van die plan om skuurpapier te gebruik om die bal tydens ’n toetswedstryd teen Suid-Afrika te manipuleer. Sy voormalige spanmaat, David Warner, het Khawaja se weergawe gesteun en dit as akkuraat beskryf.
Greenberg sê egter Krieket Australië sien geen dwingende rede om die ondersoek te heropen nie.
Die vorige ondersoek het bevind dat slegs drie spelers vooraf van die plan geweet het.
En, in sokker-nuus: Michael Carrick se toekoms as Manchester United se hoofafrigter is al hoe meer onseker, hoewel die klub nog nie ’n finale besluit oor sy posisie geneem het nie.
Sky Sports berig dat United se bestuur die span se vertonings hersien, met ’n besluit wat voor die einde van die internasionale pouse verwag word.
Die druk het toegeneem nadat United agt agtereenvolgende Premierliga-wedstryde sonder ’n oorwinning gespeel het en tot in die relegasiesone afgesak het. Sondag se gelykopuitslag van vier elk teen Aston Villa het nie die bekommernisse verlig nie. Die klub oorweeg ook sy afrigtingsopsies op langer termyn, maar het nog nie wesenlike gesprekke met moontlike plaasvervangers gevoer nie.










Comments