OGGEND SPORT: Marx sê die Bokke kan nie op vorige prestasies staatmaak nie, die Banyana-groep is aangekondig en, Sabalenka begin die WTA-eindtoernooi met ‘n sege oor Muchova

Ons begin met rugby: Die Springbok-haker Malcolm Marx sê Suid-Afrika kan nie op vorige prestasies staatmaak terwyl hulle voorberei om Frankryk in Vrydag se Nasieskampioenskap-wedstryd in Parys te trotseer nie.
Die wêreldkampioene het nege van hul laaste tien toetse teen Frankryk gewen en is onoorwonne in die Franse hoofstad sedert 2005. Marx sê egter Frankryk bly 'n gevaarlike teenstander, met sterkte in hul voorspeler-pak en 'n onvoorspelbare speelstyl.
Springbok-hulpafrigter Felix Jones sê Frankryk het genoeg diepte om verskeie losskakelbeserings te hanteer. Hy verwag ook dat koue en nat toestande Vrydag se ontmoeting sal beïnvloed.
In sokker-nuus: Banyana Banyana-afrigter Desiree Ellis het haar groep vir die FIFA-vrouewêreldbeker se interkontinentale uitspeelwedstryde, wat later vandeesmaand plaasvind, aangekondig.
Ervare spelers sal deurslaggewend wees in Suid-Afrika se poging om 'n plek in volgende jaar se toernooi in Brasilië te verseker. Wendy Shongwe, wat aan die 2023-wêreldbeker deelgeneem het, keer terug na die groep. Sy is die enigste speler wat nie deel was van die span se veldtog tydens die Afrika-vrouebeker vroeër vanjaar nie.
Banyana kom op 28 November teen Chinese Taipei te staan, op 1 Desember teen Ecuador, en op 5 Desember teen Oesbekistan. Ellis sê dit was 'n uitdaging om 'n groep van 23 spelers saam te stel, aangesien beserings, eksamens en paspoortkwessies 'n invloed op die beskikbaarheid van spelers gehad het.
En, in tennis-nuus: Aryna Sabalenka het haar veldtog by die WTA-eindtoernooi in Indian Wells met ’n oorwinning in twee stelle oor Karolina Muchova begin.
Die tweede gekeurde Belarussiese speler het die Tsjeg met 7-6 (7-2), 7-5 geklop in ’n wedstryd wat een uur en 53 minute geduur het.
Volgens Reuters moes Sabalenka in albei stelle van ’n agterstand herstel. Sy het in die eerste stel teruggebreek nadat Muchova met 5-4 voorgeloop het, en in die tweede stel weer teruggeveg nadat Muchova gebreek het terwyl Sabalenka vir die wedstryd probeer uitslaan het.
Sabalenka mik na haar eerste WTA-eindtoernooikroon. Sy was in 2022 en 2025 die naaswenner.










Comments