MIDDAG SPORT: Liebenberg en Barnard deel die voortou, die regering bied 'n helpende hand aan SA-hokkie en Pakistan dwing die beslissende wedstryd in die reeks af
- Saamgestel deur Jana Roos

- Jul 23
- 2 min read
Ons begin met gholf-nuus: Louis Liebenberg het ‘n telling van 69 in die tweede ronde aangeteken en hom by Charl Barnard op sewe houe onder baansyfer boaan die puntelys te neem, voor die finale ronde van die Betway Big Easy Tour-toernooi by die Krugersdorp-gholfklub.
Liebenberg het sy openingsronde van 68 opgevolg met ‘n bestendige vertoning wat vier voëltjies en een oor baansyfer ingesluit het en sê hy beplan om by dieselfde benadering te hou in sy strewe na die titel.
Barnard het ook sewe houe onder baansyfer bereik ná ‘n ronde van 68, ten spyte van ‘n uitdagende laaste nege putjies en sê dat die stryd om sy eerste Betway Big Easy Tour-oorwinning waardevolle ervaring bied.
Keegan Mclachlan en Jordan Wessels deel die derde plek op vier houe onder baansyfer, terwyl Wandre Snyman en Daniel Cronje nog ‘n hou agter hulle in die vyfde plek lê.
In hokkie: Die departement van sport, kuns en kultuur het drie miljoen rand se noodbefondsing goedgekeur om te verseker dat Suid-Afrika se mans- en vrouehokkiespanne ten volle befonds aan die 2026 FIH Wêreldbeker in België en Nederland kan deelneem.
Die ingryping volg nadat SA Hockey met ’n finansieringstekort gesit het, wat spelers moontlik sou dwing om hul eie reis- en toernooikoste te betaal.
Minister Gayton McKenzie sê dit is onaanvaarbaar dat atlete hul land op eie koste moet verteenwoordig en beklemtoon dat die befondsing slegs bedoel is om Suid-Afrika se Wêreldbeker-deelname te beskerm. Die geld sal uitbetaal word sodra ’n formele ooreenkoms gesluit is, terwyl SA Hockey ook ’n volledige verslag, aanspreeklikheid oor die besteding en ’n plan vir beter finansiële volhoubaarheid moet voorlê.
En, in krieket-nuus: Pakistan se Onder-19-vrouespan het Suid-Afrika se Onder-19-vrouespan met ses paaltjies geklop en die reeks van vyf internasionale jeug T20-wedstryde gelykop op 2-2 te staan gebring, deur die teiken van 110 lopies suksesvol met vier balle oor te haal.
Suid-Afrika is tot 109-8 beperk, ten spyte van waardevolle bydraes deur Shreeya Subbiah en Chris-Mari Bezuidenhout.
Respect Mabasa het drie paaltjies geneem en Pakistan in die moeilikheid gelaat op 43-4, maar ‘n onoorwonne vennootskap van 70 lopies tussen Zoofishan Ayyaz en die kaptein, Fizza Fiaz, het die tuisspan na oorwinning gelei.
Die vyfde en beslissende internasionale jeug T20-wedstryd word Vrydag in Karachi gespeel.








Comments