Milnerton: Seuns almal op borgtog vrygelaat om eksamen te skryf
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Oct 24
- 1 min read
’n Groep seuns van die Milnerton High School het die skoolsaal vir die hofsaal verruil toe hulle in die beskuldigdebank van die landdroshof in Kaapstad ingeskuif het.
Die agt gr. 10- en gr. 11-leerlinge het gister verskyn op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat opspraakwekkende video’s vandeesweek op sosiale media versprei is.
Netwerk24 berig twee van die seuns het in die jeughof verskyn omdat hulle nog minderjarig is, terwyl die ander ses as volwassenes verskyn het omdat hulle reeds 18 jaar oud is.
Die seuns is elk op borgtog van R2 000 vrygelaat. Hul borgtogvoorwaardes bepaal onder meer dat hulle geen kontak met die klaers mag hê nie. Hulle word verder verbied om die skoolterrein te betree totdat die saak afgehandel is en moes hul selfone met wagwoorde aan die ondersoekbeampte oorhandig.
Die saak is tot 20 Januarie 2026 uitgestel sodat die seuns hul eksamens kan skryf. Hulle sal tuis studeer en die Wes-Kaapse onderwysdepartement het ’n alternatiewe eksamenlokaal hiervoor beskikbaar gestel.




Comments