‘n Bekende Vrystaatse perde-afrigter is oorlede
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- 2 days ago
- 1 min read
’n Bekende perde-afrigter is oorlede nadat hy glo met ’n graaf aangerand is tydens ’n rusie oor wedren-wins by die Vaal-resiesbaan.
Polisiewoordvoerder, Josephine Rani, sê in ’n mediaverklaring die 73-jarige Vrystater en ’n werknemer het saam gekuier toe ’n woordewisseling ontstaan het wat glo gewelddadig geraak het.
Die slagoffer is later in sy woning op die perseel aangetref en is op die toneel dood verklaar.
Die verdagte het homself aan sekuriteit oorgegee en is in hegtenis geneem.
Hy sal binnekort in die Sasolburg-landdroshof verskyn op ’n aanklag van moord.
Intussen sê SA Horseracing Jannie Borman se dood is ’n groot verlies vir die plaaslike renbedryf.
Hy het sy loopbaan oor dekades opgebou en was bekend vir sy toewyding, deursettingsvermoë en vermoë om die beste uit sy perde te haal.
Die organisasie sê sy bydrae tot Suid-Afrikaanse perdewedrenne sal lank onthou word.








Comments