‘n Belastingpraktisyn is tronk toe vir bedrog
- Saamgestel deur Nadia Pieters

- 1h
- 1 min read
'n Belastingpraktisyn is ses jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan 55 aanklagte van bedrog.
Die Son berig die man het geld wat 'n kliënt bedoel het om aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, SAID, te betaal, vir homself gehou.
Die Paarl-streekhof het gehoor dat die kliënt die geld oor 'n tydperk van 21 maande in die belastingpraktisyn se persoonlike bankrekening inbetaal het nadat hy meegedeel is dat dit later aan SAID oorbetaal sou word.
Toe die kliënt later navraag oor uitstaande belasting gedoen het, is vals verwysingsnommers aan hom verskaf. Die hof het ook gehoor dat die geld intussen bestee is en nie aan die kliënt terugbetaal kan word nie.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag stuur die vonnis 'n sterk boodskap aan belastingpraktisyns dat daar van hulle verwag word om die hoogste professionele en etiese standaarde te handhaaf.
Die NVG sê enigeen wat van wettige praktyk afwyk en kliënte bedrieg, sal vervolg word en, waar toepaslik, tronkstraf opgelê word.








Comments