top of page
ChatGPT Image Mar 5, 2026, 10_59_10 AM.png

‘n Bloemfonteiner hoop haar liedjie raak harte

Writer: Saamgestel deur Nadia Pieters
Saamgestel deur Nadia Pieters
Jul 19
2 min read

'n Bekende Bloemfonteinse sakevrou en liedjieskrywer, Nelmarie Oosthuizen, is onder die top-20 deelnemers in die FAK se Skryf'it-kompetisie nadat haar lied Hoogste Bome uit meer as 1 100 inskrywings gekies is.


Die FAK se Skryf'it-kompetisie bied aan liedjieskrywers die geleentheid om oorspronklike Afrikaanse liedjies of KI-musikale verwerkings van hul eie komposisies in te skryf.


Oosthuizen sê sy was oorweldig toe sy hoor dat sy tot die volgende ronde deurgedring het.

"As liedjieskrywer werk 'n mens baie alleen, sonder om te weet of jou musiek ooit mense gaan bereik. Hierdie was vir my bevestiging dat eerlike stories en opregte liedjies steeds 'n plek het."


Sy het in die KI-musikale verwerking-afdeling deelgeneem. Hoewel die musikale verwerking met behulp van kunsmatige intelligensie geskep is, beklemtoon sy dat die lied se lirieke, melodie en oorspronklike konsep haar eie is.

"Ek sien KI in hierdie geval as die kunstenaar wat die lied lewe gegee het – nie die skepper van die lied nie."


Die lied, Hoogste Bome, handel oor die mense wat stilweg ander se lewens beïnvloed.

Volgens Oosthuizen is dit 'n boodskap van hoop, dankbaarheid en die verskil wat gewone mense deur liefde, geloof en opregte omgee kan maak.


Sy sê die lied is geïnspireer deur die mense wat haar eie lewe gevorm het.

"Ek hoop luisteraars hoor nie net die musiek nie, maar ook die boodskap dat elkeen van ons die geleentheid het om so 'n 'hoogste boom' in iemand anders se lewe te wees."


Oosthuizen is reeds bekend as die skrywer van Rotsvas, wat deur Adam Tas en Liezel Pieters opgeneem is en tans op Rosestad 100.6fm se Top 10 te hoor is. Sy sê dié sukses het haar meer vertroue as liedjieskrywer gegee, maar herinner haar ook dat elke nuwe lied weer sy plek moet verdien.


Indien sy verder in die kompetisie vorder, hoop sy dat Hoogste Bome mense se harte sal aanraak en lank ná die kompetisie sal bly leef. Sy sê dit sal ook besonder wees indien Danie "Reënwolf" du Toit, wat haar lied vir die volgende ronde gekies het, dit uiteindelik self vertolk.


Vir haar sal ondersteuning uit Bloemfontein 'n besondere betekenis hê.

"Dit sal voel asof my eie mense hul hand op my skouer sit en sê: 'Ons glo in jou. Vlieg.'"


Nelmarie Oosthuizen. FOTO: Verskaf
Nelmarie Oosthuizen. FOTO: Verskaf

 

 
 
 

Comments


bottom of page