‘n Eekhoring is op kamera vasgevang waar dit lyk asof hy damprook
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Mar 27
- 1 min read
’n Eekhoring is in ’n park in Londen op kamera vasgevang waar dit lyk asof hy damprook. In 'n video kan gesien word hoe ’n grys eekhoring aan die mondstuk van ’n weggegooide damprooktoestel knaag.
UPI berig ander foto’s en video’s wat op sosiale media gedeel is, toon soortgelyke voorvalle waar eekhorings damprooktoestelle hanteer, daaraan kou en selfs optel.
’n Rooieekhoring-kenner aan die Bangor-universiteit, Craig Shuttleworth, sê dit is waarskynlik die gegeurde vloeistof wat die eekhoring se aandag getrek het. Hy sê ’n damprooktoestel sal aantrekliker as ’n gewone tabakproduk wees wat nie soos vrugte gegeur is nie.
Hy voeg by n mens wil nie hê diere moet nikotien inneem nie. Hulle kom nie in die natuur daarmee in aanraking nie, en soos baie chemikalieë is dit iets waaraan hulle nie blootgestel behoort te word nie.
Die RSPCA, wat reeds in 2023 ’n waarskuwing uitgereik het oor die gevare van weggegooide damprooktoestelle, sê die jongste video behoort mense te herinner om rommel behoorlik weg te gooi.








Comments