'n Ma en kind is dood toe 'n minister se motor hulle tref
- Saamgestel deur Ilde Roos

- May 13
- 1 min read
'n Ma en kind is dood nadat hulle raakgery is deur ʼn ampsmotor waarin die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, op reis was. Die vrou se man is kort voor dit ook deur ’n ander motor doodgery.
Maroela Media berig ʼn voorlopige ondersoek dui daarop dat die ma met haar twee kinders glo op 'n bus was toe sy hoor van ‘n ongeluk waarin haar man betrokke was. Sy en haar kinders het van die bus afgeklim en die snelweg naby die Settlers-afrit noord van Pretoria oorgesteek toe die minister se amptelike voertuig hulle getref het.
Nasionale polisiewoordvoerder, brigadier Athlenda Mathe, bevestig Motsoaledi se motor is ten tye van die ongeluk deur ʼn lid van die beskerming- en veiligheidsdienste bestuur. Mathe sê die minister, sy bestuurder en sy lyfwag het onmiddellik ná die ongeluk stilgehou en op die toneel gebly totdat nooddienste en die polisie opgedaag het.
Die vrou se man het ook aan sy beserings beswyk. Volgens Mathe is die man raakgery deur ʼn motor wat na bewering deur ʼn polisiebeampte, wat van diens af was, bestuur is.
Twee afsonderlike sake van strafbare manslag word ondersoek. Omdat daar in beide ongelukke polisiebeamptes betrokke is sal die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat ook ondersoek in stel.








Comments